Bybelstudies
Ds. AP Krüger
Voorwoord
| Die boek Ester lyk op die oog af na ‘n mooi storie wat eintlik nie in die Bybel tuishoort nie. Die Naam van God word in die oorspronklike taal (Hebreeus) nie een maal genoem nie. Tog bevat die boek Ester ‘n rykdom van God se beskermende genade. Wanneer ‘n mens bietjie dieper kyk en nadink, staan jy telkens verstom oor die manier waarop die Here werk.
Met hierdie Bybelstudie het ek probeer om telkens die oog op Sy genadige werk tot verlossing van Sy volk te laat val. Die boekie is die neerslag van Bybelstudie wat ons gedurende die eerste kwartaal van 2005 in die Gereformeerde Kerk Boksburg-Suid gedoen het. Daarom wil ek elkeen wat aan die Bybelstudie deelgeneem het, van harte bedank. Eintlik is dit hulle aanmoediging wat daartoe gelei het dat hierdie Bybelstudie die lig gesien het. Dit was ‘n uitdaging om elke week die vrae vir bespreking, asook die antwoorde op die vrae gereed te kry.
Aan ons hemelse Vader kom die hoogste dank toe, omdat Hy aan my die genade verleen het om hierdie werkie te voltooi. Mag dit dan ook ‘n bydrae lewer in die groei van ons geloof.
Abraham Krüger
Junie 2005
|
Hierdie Bybelstudiegids oor die boek Ester is beskikbaar in sagtebandformaat (A5 grootte, 79p) vanaf Ds. Krüger teen 'n koste van R40-00, posgeld en verpakking ingesluit, solank as wat voorrade hou. Altermnatiewelik kan dit ook in elektroniese formaat as 'n MS Word dokument bekom word teen 'n koste van R30-00. Stuur gerus vir Ds. Krüger 'n e-pos om jou kopie te bestel.
Die Bybelstudiegids is opgedeel in elf dele met 'n totaal van 305 vrae. Daar is ook riglyn antwoorde beskikbaar op al die vrae. Ek plaas die eerste deel met antwoorde hier as 'n voorsmakie van wat jy te wagte kan wees.
Agtergrond:
- Wie speel die “hoofrolle” in die boek Ester?
- Wat is Ester se Hebreeuse naam? (2:7)
- Wat beteken die naam?
- Ester is haar Persiese naam. Wat beteken die naam?
- Wie het die boek Ester geskryf?
- Wat is die opvallendste kenmerk van die boek?
- Moet die boek Ester in die Bybel opgeneem wees? Motiveer.
- Waaruit kan ons aflei dat God wel ten volle by die geskiedenis wat in die boek beskryf word, betrokke is? Ester 4:14; 8:17; 9:1
- Probeer om, in die lig van Ester 4:14; 8:17 en 9:1, ‘n hoofgedagte vir die hele boek Ester te formuleer.
- Watter fees is na aanleiding van hierdie fees ingestel en waarom word die bepaalde naam aan die fees gegee? (9:26 – 28)
Antwoorde:
- Wie speel die “hoofrolle” in die boek Ester?
Ahasveros ~ hy het oor die ryk van die Meders en Perse regeer van 485 – 465 v.C. In buite Bybelse bronne staan hy bekend as Xerxes I wat ‘n mislukte veldtog teen Griekeland gevoer het in 480 – 479 v.C.
Ester ~ sy was een van die Joodse ballinge. Haar Hebreeuse naam was Hadassa. Sy was ‘n weeskind wat deur haar neef Mordegai onder sy sorg geneem is. Sy was baie mooi, selfs mooier as koningin Vasti, van wie uitdruklik in 1:11 gesê word dat sy baie mooi was.
Mordegai ~ was een van die Joodse ballinge. Hy het uit die stam van Benjamin gekom en een van sy voorouers was Kis, die pa van koning Saul. Ester se pa was sy oom, sodat hy en Ester neef en niggie was.
Haman ~ hy was ‘n Agagiet en waarskynlik ‘n afstammeling van koning Agag van Amalek (1 Sam. 15). Die Amalekiete was een van Israel se groot vyande en Haman sit hierdie vyandskap voort.
- Wat is Ester se Hebreeuse naam? (2:7)
Hadassa.
- Wat beteken die naam?
Mirt of mirte
- Ester is haar Persiese naam. Wat beteken die naam?
Moontlik afgelei van ‘n Persiese woord wat “JONKVROU” beteken. Ander moontlikheid is dat dit afgelei is van die Persiese woord vir “STER”.
- Wie het die boek Ester geskryf?
Die skrywer is onbekend. Die verhaal is waarskynlik baie later eers opgeteken, gedurende ‘n tyd toe die Jode die Purimfees verwaarloos het. Blykbaar is hoofstuk 9:20 – 32 en 10:1 – 3 ‘n later toevoeging tot die verhaal. In elk geval bly die skrywer van die boek onbekend.
- Wat is die opvallendste kenmerk van die boek?
Die Naam van God word in die oorspronklike teks, nie een keer genoem nie.
- Moet die boek Ester in die Bybel opgeneem wees? Motiveer.
Ja. Al word die Naam van God nêrens in die boek uitdruklik genoem nie, is dit uit die hele boek tog duidelik dat Hy in beheer is van alles wat gebeur. Hy bepaal en bestuur die geskiedenis om sy volk van uitwissing te red. Daardeur leer ons Hom ken as die God wat altyd getrou bly aan sy beloftes.
‘n Moontlike rede vir die totale afwesigheid van God se Naam, kan daarin geleë wees dat die boek geskryf is in ‘n tyd toe dit onverstandig en selfs lewensgevaarlik was om die Naam van die God van Israel in ‘n geskrif te noem. Dit sou ook kon saamhang met die Jode se vrees om die Naam van God te misbruik. Om enige misbruik te voorkom, het hulle die Naam eenvoudig uitgelos of plaasvervangende terme in die plek daarvan gebruik.
- Waaruit kan ons aflei dat God wel ten volle by die geskiedenis wat in die boek beskryf word, betrokke is? Ester 4:14; 8:17; 9:1
Hierdie verse skep die indruk dat die skrywer van die boek daarop wil wys dat God self die gevaar van sy volk afgeweer het. Hy het gesorg dat die onherroeplike wet van die Meders en Perse omgekeer word, sodat sy volk hulleself kan verdedig en nie vernietig word nie.
- Probeer om, in die lig van Ester 4:14; 8:17 en 9:1, ‘n hoofgedagte vir die hele boek Ester te formuleer.
Die boek handel oor God, wat die wêreldgeskiedenis so beheer en bestuur, dat sy volk nie uitgeroei word nie. Ons sou die hoofgedagte so kon formuleer: God is in beheer van alle dinge en gebruik sy almagtige bestuur van sake om sy volk te beskerm.
- Watter fees is na aanleiding van hierdie fees ingestel en waarom word die bepaalde naam aan die fees gegee? (9:26 – 28)
Die Purim-fees. Die fees is so genoem, omdat Haman die Pur, dit is die Lot gewerp het om die dag te bepaal waarop die Jode uitgeroei moes word. Die Pur is die Persiese naam vir die Lot. Die fees is op 14 en 15 Adar gevier om die gebeure wat in die boek Ester beskryf word, te herdenk. Die maand Adar, is die laaste maand op die Joodse kalender en stem ooreen met ons maande Februarie \Maart.
Dit was ‘n baie gewilde fees by die Jode. Op 13 Adar is gewoonlik gevas, en dit is die “vas van Ester” genoem. Teen die aand het almal in die Sinagoge bymekaar gekom. Na die aanddiens, is die boek Ester voorgelees. Wanneer die naam van Haman gelees word, roep almal uit: “Mag sy naam uitgewis word!”
Die volgende oggend, 14 Adar, het almal weer in die sinagoge bymekaar gekom vir ‘n diens. Die res van die dag is op vrolike en feestelike wyse deurgebring. Daar is baie gesing, en opvoerings en voordragte het deel van die dag se feestelikhede gevorm. Een van die belangrikste dinge wat tydens die fees gedoen is, is die uitdeel van kos en geskenke aan die armes, volgens die reëling wat in Ester 9:19 getref is.
|
Terug na bo
|