Free Web space and hosting from jislaaik.com
Search the Web

Padlangs - Verhit jou swembad met sonkrag  


Swembadverhitting


'n Verhitte swembad? Dis mos net vir ryk mense! Sę jy... Ek sę nee, dis vir enige swembad eienaar. Veral as jy 'n "Doen Dit Self" mens is. En ook vir die wat tien duime het, is dit glad nie so onbekostigbaar nie. Daar is altyd 'n plan te maak.

Nadat ek my huis gekoop het (met 'n swembad wat ek nooit wou gehad het nie), het ek besluit ek gaan die swembad verhit. Die gedagte het altyd so in my agterkop bly draai en ek het aanhou planne maak, maar nie tot uitvoer gekom nie. Tot die swembadprobleme begin het. Maar laat ek voor begin met die storie...

(As jy nie die hele treurmare oor my swembad wil lees nie, maar direk na die deel oor verhitting wil spring, kliek hier.)

Hoek van swembad met staalraamDie eerste eienaar van die huis wat ek gekoop het, was 'n DDS-man, oftewel 'n doen-dit-self-man. Hy het die huis gebou en toe die swembad ook self gebou. Op 'n maklike, goedkoop manier. Hy het die gat gegrawe, 'n staalraam gemaak wat in die gat pas, die staalraam met plaat bekleed, die vloer en hoeke met sand bedek, 'n vinielsak laat maak wat binne-in pas, die sak in die gat met staalraam en plate gesit en vol water gemaak. Daarna die plaveisel om die swembad gelę en siedaar, 'n relatief goedkoop swembad self gebou.

Probleem is dat die vinielsak 'n beperkte leeftyd het (+- 15 jaar). En die beperkte leeftyd was basies op sy einde toe ek die huis gekoop het. Sommer gou het ek agtergekom die water sak darem baie vinnig. Synde dat ek geen, maar GEEN, ervaring van 'n swembad het nie, doen ek navraag by kennisse wat swembaddens het. Vind uit dat 50mm per dag heeltemal te veel is.

Binnekant van swembad met staalraam en plate in plek, besig om vinielsak te installeerProbleem geïdentifiseer, die vinielsak het iewers 'n gat in. Nou hoe spoor mens 'n klein gaatjie in so 'n swembad op? Maklik, jy los die swembad dat die water uitlek tot die vlak net bo die gaatjie stop, spoor die gaatjie op, pomp die water uit tot net onder die gaatjie, plak 'n "patch" oor en tap weer water in.

Om 'n lang storie kort te maak, na ek die vierde gat toegeplak het en 'n waterrekening van oor die R800-00 van die Mislike Paliteit kry, besluit ek dis nie die moeite werd om die volgende gat toe te plak nie. Gat nommer vyf maak toe sy verskyning teen laat November. En die watervlak sak al laer en die son word al warmer met die aanvang van Desember. Tot ek een Saterdagoggend die swembad, wat teen daardie tyd 'n diep bottelgroen kleur was, so staan en bekyk en besef die son het die vinielsak vrot gebrand. Gedane sake het geen keer nie, die swembad is daarmee heen.

Ek en vroutjie bespreek die ding en maak allerhande planne met die swembad. Kom ons plavei hom uit, sit 'n grasdak lapa bo-oor hom op en maak 'n lekker kuierplek daar onder in die gat. Vind kostes uit en besef ons is nie so ryk nie. Beplan weer verder. Gooi hom toe en plant gras. Nee, dit gaan die huis se waarde te veel laat val en waar gaan ons so baie grond kry en die kinders is nog klein en wil swem. bespreek die finansies nog 'n slag...

Onthou naderhand dat ons mos versekering op die huis het. Kontak die versekeraar en meld 'n eis aan. Sę hulle sal 'n assessor uitstuur om te kom kyk. Na twee weke was daar nog geen teken van 'n assessor nie. Bel weer die versekeraar, weet hulle kwansuis van geen eis nie. Meld weer die eis aan en kry die assessor se nommer. Reël en die man kom kyk. Jammer, maar vinielswembaddens word nie gedek nie. Al wat gedek word, is veselglas-, "marblelite"- en steen en sement swembaddens. Ook net teen brand-, vloed- en weerligskade. Grondverskuiwings, die enigste ding wat 'n swembad kan beskadig, word uitgesluit. Nou het jy al ooit van 'n swembad gehoor wat afgebrand het? Of weggespoel het? Jou duur versekering gaan dus net die swembadpomp se motor vervang as die weerlig dit dalk raakslaan. Verder beteken jou versekering niks ten opsigte van 'n swembad nie.

Genoeg versekering bashing, voort met die swembadplanne. Bekyk ek die ou vinielsak eendag mooi en sien daar is 'n naam op die nate gedruk. HYDREX - JHB. 'n Vinnige Google bring my toe by HYDREX se webtuiste uit. Kontak hulle en praat met Freddie Horstmann. Word sommer flink in Afrikaans gehelp. Freddie het my presies verduidelik hoe om my swembad op te meet. Nadat ek die mates verskaf het, het hulle vir my 'n nuwe vinielsak gemaak. In terme van swembadpryse heel bekostigbaar, ook. Die vinielsak vir my swembad van 8 X 5.1 X 1.6 meter het net onder die R6 000-00 gekos. As jy self goedkoop wil swembad bou, gaan kyk gerus by hulle webtuiste. Hulle verskaf ook die staalrame en 'n volledige gids van hoe om dit te doen. Ook die swembadpompe en filters en alles wat saam met 'n swembad gaan. Ook baie ander plastiekprodukte.

My ander opsies was om self die swembad te bou met steen en sement, dit sou my sowat R10 000 gekos het as ek self gebou het (onthou, ek het reeds 'n gat gehad, asook die pomp en filter), en sowat R25 000 as ek laat bou het, 'n voorafvervaardigde veselglasdop sou sowat R22 000 gekos het, dis sonder vervoer van Durban af en sonder installasie. Die vinielsak en staalraammetode lyk dus asof dit die goedkoopste manier is om 'n swembad te bou.

Die plaveisel om die swembad moes heeltemal opgebreek word om die nuwe vinielsak te kon installeer, dus het ek die plaveisel ook laat oordoen. Ek het nie kans gesien om my hand aan plaveisel te waag nie. Nie een van die pryse wat ek hierbo genoem het, sluit plaveisel in nie. Daarvoor kan jy nog 'n goeie R6 000 bysit.

Na die lang relaas, kom ek uiteindelik by die onderwerp van die blad. Swembadverhitting. Aanvanklik het ek gedink dis mos maklik. Sit 'n rol swart PVC pyp op die huis se dak, koppel dit in die pompstelsel in en pomp die swembadwater daardeur. Die son bak die pyp warm, die water neem die hitte op en daar het jy 'n verhitte swembad. Maklik, nč? Toe nie, dit werk nie so maklik nie. Ek het aanvanklik 100 meter 50mm pyp op die dak opgerol, en kon nie eers een graad Celsius verskil maak in die swembad se temperatuur nie. Maar ek was vasberade om my swembad te verhit.

Na nog 'n Google het ek heelwat inligting opgespoor oor verhittingstelsels en was dit duidelik dat ek een of ander vorm van paneel moes bou om die water te verhit. Onder andere kom ek op Brad se webtuiste af by http://www.syrex.co.za/bradp. Hy verkoop 'n volledige handleiding oor hoe om jou eie verhittingstelsel te bou. Met 'n baie duidelike, stapsgewyse beskrywing van presies hoe om dit te doen. Asook verskaffers waar jy die nodige materiaal kan koop en benaderde pryse sodat jy kan uitwerk wat dit gaan kos. Dit is beslis die moeite werd om Brad se handleiding aan te skaf as jy enigsins van plan is om self jou verhittingstelsel te bou.

Gewapen met Brad se handleiding, het ek die somme gemaak, die materiaal aangekoop en die stelsel gebou en geïnstalleer. Woensdag, 27 April 2005 het ek klaargemaak. Donderdagoggend het ek die pomp aangeskakel en begin temperature vat. Aangesien ek die Donderdag en Vrydag verlof gehad het, kon ek elke uur die temperature gaan meet. Ek het 'n "Pool Gobbler" aan die swembad se inlaat, dus kon ek watermonsters neem van die water wat terugkom van die verhittingstelsel af sonder om dit met die res van die water te meng. Die swembad self se temperatuur het ek op die verste punt vanaf die inlaat geneem om seker te maak dat ek nie halfverwarmde water meet nie. Donderdagoggend om agtuur toe ek die pomp aangeskakel het, was die swembad se temperatuur 17.2 grade Celsius. Teen Maandagmiddag, 02 Mei 2005 om drieuur, was die temperatuur 21.9 grade Celsius! Dit is 4.7 grade Celsius warmer as normaal in vyf dae se tyd. In Meimaand. Ek dink dit was beslis die geld en moeite werd gewees. Teen 27 Mei was die watertemperatuur 19 grade Celsius. Die data wat ek geneem het, lyk as volg (Die nulle is waar ek te laat geslaap het):

Swembad Temperature
4/28/20054/29/20054/30/20055/1/20055/2/2005
TydSwembadHeatingSwembadHeatingSwembadHeatingSwembadHeatingSwembadHeating
9:000018.119.9000000
10:000018.720.819.521.1002022.1
11:0017.819.819.221.819.922.10020.222.7
12:0018.12119.822.420.222.720.52320.823.8
13:001921.820.122.620.723.42123.621.223.9
14:0019.321.920.6232123.321.423.621.824
15:0019.52120.622.121.423.121.823.521.923.5
16:0019.620.320.521.221.32221.721.721.822.2
17:000020.3202120.521.32121.721

En as 'n grafiek lyk dit so:

Om saam te vat, jy kan jou eie verhittingstelsel vir jou swembad bou. Die stelsel behoort die swembadwater sowat agt grade warmer as normaal te maak in die somer en sowat drie tot vier grade warmer in die winter. Belangrikste egter, is dat jou effektiewe swemtyd verleng word van September tot Mei, in plaas van November tot Maart. Dit is vier maande ekstra wat jy jou swembad kan benut. Wat veral ook lekker is, is om in die aande in so 'n warm swembad te sit en kuier. Dit is dus nog meer tyd wat jy jou swembad kan benut. Skielik is die swembad nie meer 'n wit olifant nie.


Terug na bo